Graad 2


Liewe Graad 2–Ouers

Welkom terug by die e-portaal! Ons wil net graag die volgende sake onder u aandag bring rakende die huidige roetine by die skool.

Beplanning

U ontvang twee-weekliks ‘n beplanningsboekie wat die 5 dae wat u kind tuis is se huiswerkbeplanning bevat. Doen asb. die huiswerk soos aangedui op hierdie beplanning. Daar word ook aangedui of u die werk in die afrolboekie, die huiswerkboek of die DBO Rooiboeke moet doen.

Rooiboeke

Die Huistaal, Engels en Wiskunde DBO Rooiboeke kan tuis bly. Ons gaan slegs tuis daarin werk. Dit is nie nodig dat die leerder dit in hul tasse rondra nie.

Afrolboekies

Die leerders ontvang twee-weekliks ‘n afrolboekie waarin hulle tuis gaan werk. Hierdie boekie moet elke dag in hul huiswerkflippies wees, want ons gaan soms daarna verwys by die skool. Nasienwerk word deur die ouers gedoen soos leerders die takies voltooi. Na afloop van die 2 weke word hierdie boekies ingeneem en huiswerk word gekontroleer deur die opvoeders.

Nasienwerk

Dit is van kardinale belang dat huiswerk daagliks nagesien word. Ons voorsien ‘n memorandum op die e-portaal wat u kan gebruik om u kind se huiswerk na te sien indien daar iets is waaroor u twyfel. Dit is belangrik dat die leerders gehelp word met hul foutjies, want anders leer hulle nie iets daaruit nie. Maak asb. seker nasienwerk word gedoen in die DBO Rooiboeke, die huiswerkboeke én die afrolboekie.

Lees

Maak asb. seker dat leeshuiswerk daagliks gedoen word. Onthou ook om te kyk of jy jou leeslys kan volmaak hierdie kwartaal deur ander boekies te lees as dié wat ons vir jou in die klas gee.

e–Portaal

Die e-portaal gaan voort vir die Graad 2 –leerders. Aangesien u die beplanning en afrolwerk reeds vanaf die skool ontvang in ‘n harde kopie, gaan u heel moontlik nie so dikwels die e-portaal gebruik soos tydens die grendeltydperk nie. Slegs die memorandums van afrolboekies en ook skakels na Youtube video’s wat van toepassing is op die week se werk gaan op die e-portaal gelaai word. Die video’s is nie verpligtend nie – dit bly steeds verrykende hulpmiddels vir dié wat wel daarvan gebruik wil maak. Ons kyk hierdie video’s ook in die klas.

Maskers

Onthou om u kind asb. elke dag met ‘n lapmasker skool toe te stuur!

Afwesighede

Ons moet baie streng werk met afwesighede in hierdie tydperk. Daarom die volgende versoek: Indien u kind (as dit natuurlik sy/haar dag is om skool toe te kom) afwesig is, moet u asb. dadelik die opvoeder in kennis stel oor die rede vir u kind se afwesigheid op daardie spesifieke dag.

ONTHOU OM ELKE DAG DIE LEERDER SE SIFTINGSVRAELYS VOLLEDIG TE VOLTOOI VOORDAT HY/SY SKOOL TOE KOM!

Vriendelike groete

Graad 2 –Opvoeders

Onthou

Gebruik Acrobat Reader om die PDF-leêrs te lees.

Ons gebruik YouTube vir die video's, maak asseblief seker dat u toegang tot YouTube het om die video's te kyk.

Kwartaal 2

Kwartaal 3

Kwartaal 4